Die manne van Malmesbury – Deel 2
Of die manne gaan regkom met 'n geweer saam weet ek nie, maar dit sal die skietbaan ons baie gou leer. Amos gaan wys die manne waar die jaghuis is en nie te lank nie of hy is terug. Redelik bekommerd. Hy verduidelik almal het afgepak en ingetrek, maar daardie man op die agterste sitplek sit nog net "dieselle". Hy vermoed die man is dood want die ander praat nie met hom of help hom uit die bakkie nie. "Hy roer ook nie vanself nie", beduie hy verder. Hy sit nog net so platwang as toe hy hier aangekom het Ek vra of die bakkie darem in die koelte staan want as Suiker daar agter in daardie bakkie gaan begin gis kan dit 'n lelike besigheid afgee. Vrou is steeds nie lekker met Kuite oor sy boereraat nie en ek moet mooipraat om die vrede te bewaar. Watse soort mense nooi ek dan nou plaas toe? Opslag my skuld. Soos gewoonlik.
Teen kwart oor drie stop ek by die jagtershuis en beduie ons moet skietbaan toe. Net Suiker is gereed, want hy sit nog steeds waar hy was en niks van hom is nog afgelaai nie. Die res skarrel en skrop eers vreeslik voor ons daar wegkom. Kuite is eerste op die skiettafel en skiet met niks minder as 'n 300WM nie. Hoe groot dink hy is 'n springbok, wonder ek, maar met sy lyfie lyk alles seker baie groter as vir normale mense. Hulle pak sy geweer en homself met soveel sandsakke vas dat net die loop later uitsteek. Toe die skoot loop lyk dit soos 'n ontploffing in 'n wolsak. Alles trek in alle rigtings en ek kyk of hy nie seergekry het nie, maar geen teken van vrees is op Kuite se gesig nie en nadat ons alles teruggedra het tafel toe maak hy reg vir die tweede skoot. 'n Presiese weergawe van die eerste skoot behalwe dat Kuite nou hoof voorsitter van die halfmaanklub word. Hy bloei briekloos en probeer dit stop met sy sakdoek. Die res gaan ongestoord voort om alles weer op die skiettafel terug te kry. Sy geweer se "in" het hy voor die tyd beduie, sit twee en 'n halwe duim hoog op 100 meter en toe die teiken aankom is dit presies so. Die sakdoek wil egter nie die bloed stop nie en ek merk op sy bloed is waaragtig net-net dunner as huisparafien en ek vermoed ek weet hoekom. Seker al die "soet verkoues" wat hy al moes trotseer. Toe weet ek sommer ek sal hom moet dokter en stuur vir Amos bakkie toe om die "mersyne" tas te loop haal. Daar het ek net wat hy nou nodig het - staaldruppels. Lennon se staaldruppels. Toe Kuite sien ek haal die botteltjie so tussen die skaapspuite uit is hy eers steeks vir die behandeling, maar toe ek beduie hierdie staaldruppels sal sommer ook help dat daar nie 'n lelike letsel bly nie, toe gee hy maar in.
Ek maak hom sit op hulle 4x4 se staal buffer met sy kop agteroor op die masjienkap. Ek beduie hy moet nou die sakdoek gebruik om sy oog toe te hou dat die staaldruppels nie daarin beland nie, en ek begin gooi. Ruimskoots en vrylik Ons hier is mos bekend vir mededeelsaamheid. Amos wat ook al die behandeling gehad het, trek so 'n skewe gesig, druk sy eie oë en ore toe en staan 'n paar treë eenkant toe. Ek het net begin wonder of die staaldruppels dalk verslaan het toe daar lewe in Kuite kom. Hy vlieg op en skreeu dat die vlaktes antwoord gee. Hy skop die bakkie se voorwiel terwyl hy aanmekaar met albei vuiste op masjienkap slaan en aan die ysterbuffer ruk en pluk. Hy gaan so aan dat ek weer op die botteltjie kyk net om seker te maak dit is net staaldruppels en nie iets anders nie. Met die afkyk na die bottel toe gebeur dit. Suiker kom met agterdeur en al uit daardie bakkie en daar trek hy. Waarheen weet net hy. Ons is almal half uit die veld geslaan en uit pure verwardheid skreeu ek vir Amos om hom te vang, want in sy toestand kan hy homself sleg seermaak. Toe loop daardie Suiker eers los. Amos kry hom nie gevang nie, maar keer hom met so 'n lang draai terug na ons toe. Dit kos ons om hom fisies te stop om hom tot stilstand te bring. Hy is so bleek soos die dood, sy asem jaag verwoed en sy oë is heel verwilderd. Ons kalmeer hom so goed ons kan en Tuindwerg bring vir hom so 'n bruinerige kalmeermiddel wat hy met Coke en ys meng. Seker iets vir die suiker dink ek, maar toe Kuite ook een van die mengel-medisyne wegslaan is ek nie meer seker waarvoor dit moet help nie. Ons maak Suiker sit en vra wat op aarde in hom gevaar het en hy begin verduidelik. Hy het glo gedroom hy was besig met die geveg by Bloedrivier. Die droom was so eg, beduie hy dat hy selfs die skote van die ander manskappe hier langs hom duidelik kon hoor. Hier loop sy Bloedivier toe ietwat anders. Die vyand breek deur en begin toe om die "ossewa" onder hom af te breek. Hulle skreeu en slaan en ruk so aan sy ossewa dat sy moed hom begewe en hy besluit om te hardloop. Vir 'n oomblik het hy gedink hy gaan wegkom, maar toe hy omkyk sien hy een van die vyand is besig om hom te voet in te haal. Is toe dat hy besef nou hardloop hy vir sy lewe. Die volgende wat hy weet is toe ons hom hier voorkeer.
Die res van die span is besig om hulle onkapabel te lag en ek kyk met nuwe bewondering na Lennon se nederige ou botteltjie. Nie net het dit Kuite se bloed onmiddeliik gestop nie, maar ook vir Suiker uit die dode opgewek. Ek moet nog hiervan kry. Spokesperson wil weet wat op aarde ek op Kuite se oog gegooi het, maar toe hy wil weet waar hy daarvan kan aanskaf, dink Kuite nie hy is snaaks nie. Skielik staan Suiker op en beduie hy het 'n nood van weergalose proporsies en ons moet hom asseblief verskoon. Dit kon enige mens verstaan.
Toe is dit Tuindwerg se beurt op die skiettafel. Hy skiet 303 maar die een lyk of sy normale gebruik is om hoekpale mee in te kap. Hy vra ook of hy sy teiken, 'n skoon A4 bladsy, 50m toe kan skuif. Ek hou hom dop. Hy haal ses patrone van drie verskillende soorte uit, druk dit in die 10-skoot magasyn se keel af en lê aan. Na die ses skote gaan ons teiken toe en Tuindwerg tel hulle. "Al ses in die kol", beduie hy trots en ek kan sien hy kry sy 303 weer van vooraf lief. "My ou staatmaker", se hy en streel die kolf met 'n sagte hand. Ek is egter erg bekommerd want 50-meter springbokke is hier nie op hierdie plaas nie, maar troos my daaraan dat hy op die normale afstand hulle nie eers sal kan kwes met hierdie soort A4-kolskote op 50m nie. Spokesperson skiet volgende met 'n 243 en sy skote is presies.
Ek beduie vir Amos om te begin oppak, maar wat dan van Suiker, wil almal toe weet. Ek skrik by die hoor van sy naam, want hy is al lankal hier weg om 'n draai te loop, maar ek was verniet bekommerd, Suiker sit al lankal weer platwang vas aan die slaap op die bakkie se agterste sitplek. Ek vra of hy dan kapabel genoeg sal wees om te kan skiet en hulle beduie hulle sal hom help. Hulle verstaan al hoe. In 'n japtrap het hulle vir hom die skiettafel volledig opgestel, patrone gelaai, met die slot oop en die teiken op 200meter. Toe dat Tuindwerg gaan probeer om Suiker wakker te kry. Die groot skrik van vroeër het blykbaar geen effek nie want die keer vat hy stadig. Hy kom met sulke halfmas oë by die skiettafel aan en gaan sit agter die geweer sonder om aan iets te raak. Ek hou hom sekuur dop hier van agter die jagbakkie se masjienkap want geen mens weet in watter fase van Bloedrivier veg hy nou nie. Toe praat Spokesperson: "Drie skote, 200meter. Die slot is nog oop", kom die opdrag. Suiker skuif hom so effe reg, druk die slot toe, skiet die drie skote binne sestig sekondes, maak die slot oop en los dit oop. Hierdie groepering wil ek sien al is dit die laaste ding wat ek doen. Almal stap vorentoe. Daar aangekom sien ek net een gat in 'n klawer formaat. Los onder 'n duim! Ek draai om, om blad te steek want dit is nie elke dag se groepering hierdie nie, maar Suiker is nie by ons nie. Hy is waaragtig steeds agter die geweer by die skiettafel en ek hol sommer een kant toe. Die man sal ons so waar as vet doodskiet sonder dat hy eers daarvan weet. Nee wat, stel Spokesperson my gerus, Suiker het net drie patrone gehad en boonop wil hy my sommer wed dat as ons by die skiettafel aankom Suiker al lankal weer sit en slaap. Ek wed maar eerder nie want Suiker het papiere vir slaap.
Daar aangekom is dit toe ook nie anders nie. Spokesperson en Tuindwerg het hulle hande vol om die slaapwandelaar weer op sy sitplek in die bakkie terug te kry. Einde ten laaste druk hulle hom sommer met die deur terug in die bakkie in. Ek loop kyk toe eers mooi na watse roer in staat is om so te groepeer. Dit het nie 'n naam nie. Glo vir hom gebou, maar die teleskoop herken ek as daardie wat soveel kos soos 'n goed opgepaste tweedehandse plaasbakkie. Ons ruim op en ek dink oor die volgende dag en hoe ons te werk sal moet gaan. Die manne soek 20 bokke. Man-man vyf. Met net vier gewere gaan dit 'n aand en 'n maand se werk afgee. Ek en Amos ry in stilte huis toe. Besig om die middag se dinge te probeer verwerk. Naby die huis se hy net: "Oubaas, daai dooie Baas loop vir vrek as hy eers gevat het", en ek kan sien hy is duidelik verleë oor die feit dat hy hom nie kon vang nie. Ek reageer nie en beduie net hy moet die volgende oggend sesuur klaar wees, toe ek hom aflaai.
In die kombuis is Vrou besig met aandete maar sommer met die intrap kan sy sien ek is bekommerd. Sy vra en ek vertel. Ja, maar wat het ek nou anders verwag van sulke "robbies" wil sy weet. Sy weet nie waarom ek sulke mense plaastoe nooi nie. Daar is meer as genoeg ander wat graag sal wil kom jag. Wel, hulle is nou hier en hierdie dag al reeds vyf treë te lank, so ek ja-vrou en nee-vrou maar saam, net om dit verby te kry.